10/10/2009

Mis in die tuin

Dieremis is nie net goeie bemesting vir plante nie, maar dit help ook om die grond in goeie kondisie te hou. Hier is 'n paar riglyne vir die gebruik van mis in die tuin:

* Moet nie katte en honde se mis gebruik nie. Dit kan siektes bevat wat na kinders oorgedra kan word.

* Moet nooit vars mis gebruik nie. Dit bevat vloeibare stikstofsamestellings en amoniak wat plante kan brand en kan inmeng met die ontkieming van sade. Mis wat met plantmateriaal gemeng is of vir ten minste ses maande gelĂȘ het is die beste. Indien jy mis by jou kompos gooi sal dit die afbrekingsproses bevorder.

* Vloeibare mis kan van tyd tot tyd gebruik word vir bemesting of dit kan verdun word en gebruik word elke keer as jy die plante water gee. Moet dit nie direk op die plante spuit nie. Maak jou eie vloeibare mis deur 'n graaf of twee mis by 'n drom water te gooi. Na 'n week of wat verwyder jy die mis. Om die mis maklik uit die water te kan verwyder draai jy dit vooraf in 'n goiingsak toe voor jy dit in die water gooi.

* Perdemis moet liefs in kompos gebruik word en nie direk in die tuin nie aangesien dit gewoonlik heelwat onkruidsade bevat.

In plaas van mis kan jy ook die volgende gebruik:

* Week ou koerante 'n paar uur lank in water en spit dan in jou tuingrond in vir bemesting.

* Hou die akwarium water wanneer jy dit skoonmaak. Dit is uitstekende plantvoedsel.

No comments :

Post a Comment